top of page

Visioen vir Vredendal

 

Past. C. van Niekerk 28 Julie 1998

 

Ek was besig om te bid vir ander gemeentes, toe Vredendal in my gees opkom. Terwyl ek vir Vredendal bid, het ek die volgende ondervinding gehad.  Nog nooit het so iets vantevore met my gebeur nie.

 

Ek sien die pad wat van Klawer af loop na die T-aansluiting met die pad wat van Vredendal af gaan na Vanrhynsdorp.  Regs van die T-aansluiting lê die gholfbaan.  Die volgende oomblik sien ek ‘n helder, spierwit wolk uit die grond verrys soos die wolk wat deur ‘n atoombom gevorm word.  Dit vorm ‘n sambreel.  Die helderste wit en effe geel-goud kleure.  Soos die wolk opstyg lyk dit asof in die wolk ‘n magneet is wat alles soos stroompies na dit toe trek.  Soos klein fonteintjies wat stroompies gevorm het en nou opgesuig word deur ‘n dam en die fonteinties droog op en vorm deel van die dam.

 

Die wolk hou aan trek.  Ek sien die wolk het begin vorm kry en dit lyk soos ‘n skilpaddop, maar dit is baie mooi gebou.  Ek kry die indruk van ‘n magnetiese dop wat alles soos spelde na dit toe aantrek.  Dit alles het ek gesien in ‘n tydsbestek van sekondes.  Die woorde Lig en Lewe kom by my op.

 

Toe begin ek met die Here praat oor wat ek gesien het en die Heilige Gees sê; God gaan ‘n groot ding in Vredendal doen en alle ander wat al probeer het en veg om oorlewing sal net toevloei; dit sal Lig en Lewe bring en dit sal die hoofsentrum vir Vredendal – Vanrhynsdorp – Klawer – Lutzville – Lambertsbaai en tot by Springbok en omgewing wees. 

 

Ek wil julle bemoedig.  God gaan iets groot doen: Hou moed en wag op die Here!

Visioen vir LIG EN LEWE Vredendal

 

Lorrain Visser - 21 Mei 2000

 

Ek het werklik vanmôre ‘n woord van die Here gekry vir hierdie spesifieke gemeente.  Julle moet julle tentdoeke wyd uitspan, want Hy gaan ‘n ding hier laat gebeur.  Daar gaan ‘n herlewing losbreek wat niks en niemand kan stop nie.  Julle het baie teenkanting omdat julle die waarheid glo, maar julle moet nie dat die teenkanting julle onder kry nie.  Julle moet vashou aan die Here, julle moet glo dit wat Hy gaan doen.  En ja, progressief vorentoe beweeg, maar die res is My werk.

 

Dan wys die Here vir my water wat opstryg en ek sien ander mense pak klippe bo-op en probeer om die water onder te hou, maar naderhand borrel hierdie water uit en dit loop en dit is helder water en dit stroom oral heen en die Here sê daardie water gaan werklik mense se lewens omkeer, dit sal lewende water wees.

 

Julle moet net in julle harte getrou bly en werklik aan die Here vashou.  En oefen julle in die Godsaligheid en oefen julle in die gawes, julle weet net nie hoe ‘n groot behoefte daar is in die wêreld na die gawes van die Here nie.  Daar is so ‘n nood en so ‘n honger dat die wonderwerke weer moet gebeur.

 

Ek kry ‘n ander beeld, dat uit hierdie water wat so opgekom het, begin daar ‘n boom groei, maar die water loop nog steeds en die boom groei vinnig op en dit word so ‘n dik sterk boom.  Dan kom daar helder groen blare uit.  Hierdie blare bied skadu vir baie.  Daar is baie mense wat skadu nodig het, wat deur die son geskroei word.  Die son van haat, die son van verbittering en die son van sonde. 

 

Die Here het julle werklik nodig om skadu te bied.  ‘n Gemeente van bemoediging, ‘n gemeente van wonderwerke, ‘n gemeente wat wil uitstaan vir Jesus Christus en die Here het julle werklik nodig.

bottom of page